Lama (Tibettaans: བླ་མ་, "hoof" of "hoëpriester"[1]) is die titel van ’n onderwyser van die dharma in Tibettaanse Boeddhisme. Dit is soortgelyk aan die Sanskrit-term "ghoeroe".[2]
Die woord is histories gebruik vir hooggeagte spirituele meesters[3][4] of kloosterhoofde.[2] Vandag kan dit gebruik word as ’n eretitel vir ’n monnik,[2][4] non of gevorderde beoefenaar van die godsdiens as ’n aanduiding van ’n vlak van geestelike vervulling en van die gesag om te onderrig, of dit kan deel van ’n titel wees, soos in die geval van die Dalai Lama[4] of Panchen Lama,[4] om ’n reeks gereïnkarneerde lamas aan te dui.
Die term "lama" is vroeër in die Weste vir enige Tibettaanse monnik gebruik moontlik weens ’n verkeerde begrip van Tibettaanse Boeddhisme, waarna soms as "Lamaïsme" verwys is.[2] Dié term word nou as neerhalend beskou.[5]